Huis Louisa Meyburgh

 


1. GESKIEDENIS
Louisa Fredericka Meyburgh, 'n merkwaardige vrou na wie verwys is as die goeie Engel van Port Elizabeth, is op 8 Augustus 1876 te Graaff Reinet gebore. In 1900 trek sy na Port Elizabeth en werk hier onder die sedelik vervalle en kerklose, arm Afrikaanssprekende mense in die stad. Daar word na haar verwys as die Moeder van die NG Kerk in Port Elizabeth en die Moeder van die Moedergemeente. Sy het gekom in die uur van die stadsafrikaner se absolute weerloosheid en in hierdie sin was sy 'n gawe van God aan Port Elizabeth. Sy sterf op 80 jarige ouderdom. Wat sy kon, het sy gedoen.
In 1976, 100 jaar na mejuffrou Meyburgh se geboorte, word Huis Louisa Meyburgh opgerig deur die Sinodale Kommissie van Diens van Barmhartigheid. Vandag 37 jaar later dank ons ook ons Hemelse Vader dat ons nog voortbestaan en in die behoeftes van 66 verswakte bejaardes kan voorsien. Ons missie is om 'n vriendelike omgewing te skep waar die bejaardes veilig en versorg kan voel.

2. DIENSTE
53 Personeellede versorg die 66 verswakte bejaardes. Daar is dag en nag 'n gekwalifiseerde verpleegkundige aan diens. Die personeel werk skofte - 2 dagskofte en 2 nagskofte. Ons beskik oor 'n toegruste kombuis waar 3 maaltye per dag voorberei word. Sommige inwoners moet spesiale diëte kry en daaraan word voldoen. Die washuis is 12 uur per dag in werking aangesien linne gereeld geruil moet word en die 66 inwoners se klere gewas moet word. 'n Haarkapster besoek die tehuis 1 x per week en twee dames doen weekliks vrywillig die voetbehandelings van die inwoners.

3. GEESTELIKE VERSORGING
Predikante van die ring kom maandeliks biduur hou. Sondae kan die inwoners deur middel van interkomverbinding na die eredienste vanuit die NG Kerk Nooitgedacht luister. Wanneer inwoners persoonlike geestelike versorging verlang, word hul eie predikant, pastoor of priester gekontak. Saans sal die personeel aan diens vir die inwoners wat nie meer kan lees nie, uit die Bybel voorlees en saam bid. Wanneer 'n inwoner sterwend is, is dit dikwels die personeel aan diens wat die meeste bystand en liefde verleen - ons is een groot gesin en die afskeid is vir die personeel 'n moeilike proses.

4. BESOEKE EN TEE
Elke gemeente het 1 x per jaar 'n beurt om tee en verversings vir die inwoners aan te bied. Hulle geniet hierdie besoeke baie. Musiek bring vreugde en wanneer mejuffrou Terblanche op 'n Maandagmiddag kom klavier speel en die inwoners ou jare se liedjies sing, word daar van baie skete en pyne vergeet. Ander persone en groepe soos die Arbitrio-mannekoor wat ook by geleentheid optree, word met vreugde ontvang.
Die kinders van die plaaslike skole besoek ons met Lentedag en Moedersdag. Dis ongelooflik om te sien hoe baie die bejaardes uitsien na die kindertjies wat kom en dit is die week se hoogtepunt.
Vrywilligers kom kuier vir die inwoners en slegs 'n halfuur se kuier maak 'n wêreld se verskil!

5. FONDSINSAMELINGS
Sonder fondsinsamelings kan ons ongelukkig nie voortbestaan nie. 'n Groep vrywillige dames uit die ringsgemeentes help hiermee en kan nie genoeg bedank word nie. Hulle is die mense wat voortgaan met die werk wat mejuffrou Louisa Meyburgh begin het.
Gedurende die eerste kwartaal van elke jaar het ons 'n straatkollekte en soek altyd na kollektante. Die 2de kwartaal is ons fondsinsamelingstee wat 'n baie spesiale geleenthied is. In die 3de kwartaal is ons basaar. Hierdie jaar is dit op 5 Oktober om 9:30 by die tehuis en dit is 'n feestelike geleentheid!

6. KNELPUNTE
Aangesien die gebou al so oud is, benodig dit voortdurende instandhouding. Dit is werklik 'n probleem. Ons is dikwels afhanklik van vrywilligers se oop harte en hande.
Baie van ons inwoners ontvang slegs ouderdomspensioen en hul kinders is self ook al pensioenarisse en kan nie hul ouers finansieël ondersteun nie. Sestien inwoners is bo 90 en 5 van hulle is bo 95.
Ons het al die behoeftes en vreugdes van 'n gewone huishouding - ons is maar net 'n ouer en groter huishouding.

7. DANK
Sonder die ondersteuning, bydraes en belangstelling van gemeentes en individue kan ons nie die mas opkom nie. Baie dankie!
Ons kan met dankbaarheid getuig dat ons Hemelse Vader Sy hand te alle tye oor ons hou.

 

 

 

 

 





† Na Bo †

© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.